Anderkant vergeet
Santie van der Merwe
2016
Genres: Romance
Anneleen Gericke word in 'n motorongeluk teruggeruk uit die hede terug in die verlede. Toe sy bykom, haar brein gekneus en geswel, het sy geheueverlies. Sy dink dis net na die ongeluk vier en twintig jaar gelede. Na hulle matriekafskeid was sy en vier ander in 'n gruwelike ongeluk betrokke. Tot haar afgryse moet sy hoor dat haar beste vriendin dood is, dat een van haar vriende 'n parapleeg is, en dat 'n tweede vriend gevlug het. Asof dit nie erg genoeg is nie, vind sy uit dat sy en Christiaan, met wie sy daardie noodlottige aand uitgemaak het, getroud is, en hulle het twee kinders. Anneleen se brein genees, maar sy het steeds 'n donker gat in haar geheue. Sy herstel vir 'n paar weke in die bekende geborgenheid van haar ouerhuis, maar dan moet sy terug na die lewe wat sy vergeet het. Sy soek antwoorde, maar daar duik voortdurend meer vrae op. Hoekom het sy die keuses gemaak wat sy gemaak het? Kan sy 'n ma wees vir die nuuskierige elfjarige seun en die opstandige, moeilike, agtienjarige dogter? En bowenal, kan sy Christiaan weer liefkry? Het sy hom ooit liefgehad?
Write a comment/review
Sign UpLogin