Doktor Renata Malan is 'n profileerder met 'n donker verlede en 'n talent om in geweldsmisdadigers se koppe te klim. Die oorgeerfde boosheid wat in haar gene skuil maak van haar 'n gedugte teenstander en 'n gehate vyand. 'n Seksmoordenaar saai amok tussen die ontroue vroue van Bloemfontein se rykstes; Renata en haar span moet hom help aankeer voordat nog vroue sterf. Die een raaiselagtige leidraad na die ander duik op ondanks die gebrek aan forensiese getuienis. Is die moorde die werk van haar ontsnapte moordenaar-pa, of is daar 'n ander monster wat sy dodelike fantasiee keer op keer uitleef? Die moordenaar is forensies en tegnologies bekwaam, hy het kennis van menslike anatomie en hy weet hoe om sy slagoffers sonder enige teenstand tot in sy moordkamer te kry. Die spanning bou op wanneer die moordenaar met Renata kontak maak en haar betrek by die sadistiese moorde. 'n Lid van haar span word geskiet en nog een word wreed aangerand. Is sy volgende aan die beurt? Die moordenaars in Renata Malan se stamboom het toegegee aan hulle natuur wanneer daar 'n sneller was. Is hierdie saak die sneller, die een wat haar finaal oor die afgrond gaan stoot?