Met die water wat verby is sal jou meule nooit weer maal, het Langenhoven gese. Wat verby is, is verby. Maar die verlede is nie onherroeplik nie. Die literatuur kan dit tot lewe wek en nuwe betekenis daaraan gee. Johan en Ria Smuts, twee afgetrede akademici wat as letterkundedosente en kritici bekendheid verwerf het en dikwels saamgewerk het aan vakkundige publikasies, laat vir die eerste keer 'n eie bundel verhale die lig sien. Sommiges skryf hulle saam, ander apart, maar al die onderdele vorm 'n merkwaardig geintegreerde geheel wat groter is as die som van sy onderdele. 'n Bundel wat vir sowel die gewone leser as die meer literer ingestelde persoon 'n boeiende leeservaring bied.