Kinderboekillustreerder Natalie Olivier het geen familie van haar eie nie, maar by haar vriendin Amelie se gulhartige mense voel sy tuis. Totdat Amelie se swaer van Italie terugkeer en saam begin kuier. Die aantreklike Neethling Meyer se sjokoladebruin oe wat heeltyd op haar rus, onthuts Natalie heeltemal. En toe hy haar boonop uit die bloute soen, wil haar hart net nie meer normaal klop nie. Maar Neethling is 'n beroemde skrywer van rillerromans wat duidelik sy lewe as vrygesel geniet. Het hy dan nie gereeld 'n nuwe pop aan die arm nie? Natalie weet mos hy is nie die tipe wat langtermynverhoudings aanknoop nie. Wat ook al tussen hulle is, sal nie hou nie. Jare na haar kinderdae in die weeshuis vind Natalie uiteindelik meer oor haar verlore familie uit en begin sy om haar lewensverhaal in 'n laslapdeken uit te beeld. Maar Neethling se silhoeet duik telkens in haar uitbeeldings op. Is hul lewensstories werklik bestem om te vervleg? Liefde in laslap is 'n eie liefdesverhaal van twee karakters wat lesers uit om Amelie se tafel sal onthou.