Op Sanet Smit se vyftigste verjaardag kry die verwydering tussen haar en haar man 'n naam. En dis nie 'n vrouenaam nie. Boonop is Anthonie Binedell alreeds geruime tyd oorlede en sy het geen idee gehad van Willem se smart nie. Deur haar onbegrip, woede en hartseer sypel ook die behoefte om te verstaan. In haar poging tot groter begrip word sy deel van Willem se vriendekring waarin sy voorheen nie betrokke wou raak nie. Onverwagse uitdagings in die vorm van 'n ouerlose dogtertjie en 'n woedende tienerseun toets haar empatie en vermoe om aan te pas. En dan laat Willem haar finaal in die steek. Sy moet alleen haar pad vorentoe vind. Hierdie opvolg van Opdrag van oorkant stel verskeie vrae aan die leser: Hoe verwerk 'n vrou die ontdekking dat haar man gay is? Is dit noodwendig die beste keuse dat hy uit die kas moet kom? Moet sy hom dwing as hy nie kans sien nie? Maar ook: Kan van 'n vrou verwag word om die getraumatiseerde kind van vreemdelinge in haar huis en in haar hart te neem? En: Hoe bly 'n vrou getrou aan haarself in die aangesig van soveel uitdagings? Of is dit juis die tyd vir verandering?