Thys Krige is al vyftien jaar op die spoor van sy pa se moordenaar. Ou bloed. Dit is trouens hoekom hy by die polisiemag aangesluit het. Keer op keer bevind hy hom in 'n doodloopstraat. En telkens word sy soektog gedwarsboom - onder andere deur korrupsie in die polisiemag. Maar Krige het in sy soektog 'n vennoot waarvan hy nooit geweet het nie en hierdie mens glo nie net in bloedige en grusame geregtigheid nie, hy gee uitvoering daaraan. Wat Krige ook nie weet nie, is dat die bloed inderdaad dieper loop, soos 'n geheimsinnige figuur vir hom gese het die aand toe sy pa vermoor is.