Die Uitvinder van die Jaar-kompetisie is om die draai. Bennie en Jenny kan nie wag om te sien met watter fantastiese uitvinding professor Fungus hierdie keer vorendag gaan kom nie. Maar 'n skurk voer nare planne in die mou ...en sy het 'n hele weermag van tuinkabouters om haar te help! Sal Bennie en Jenny kan keer dat iemand professor Fungus se idees steel en sy laboratorium verwoes? Jong wetenskapliefhebbers (en almal wat mal is oor snaakse stories!) verslind Jaco Jacobs se professor Fungus-reeks - en die ongelooflike illustrasies deur Johann Strauss sorg sommer vir dubbel die leespret! Elke storie is propvol fantastiese karakters en wilde, skreeusnaakse avonture. En by Einstein se snor, agterin elke boek is daar boonop 'n eksperiment wat jy tuis kan doen!